Dinsdag 14 Oktober 2014

Maak 'n verskil

Hallo daar vriende. Ek het hierdie hele proses so baie geniet dat dit vir my eintlik moeilik is om te aanvaar dat dit tot ʾn einde kom. Ek is baie lief vir Kaapstad; sy mense, hul smart en vreugde. Dit verenig ons op ʾn manier wat jy in geen ander plek sal vind nie. Dis om hierdie rede wat ek besluit het om ʾn onderwyseres te word. Ek vind dit vreugdevol om met kinders te werk. Hul jong gesiggies wat met soveel onskuld oopgaan vir nuwe ervaringe, waarvan ek ʾn deel kan wees.Dit maak my skoon opgewonde as ek dink aan hoe ek deel daarvan kan wees. Dis my verlange om bydrae te lewer om ons stad ʾn plek van bevordering te maak. Ek wil ʾn burger wees wat volhard bydra tot die vooruitgang van ons land en glo dat dit begin met die liefdevolle opvoeding van ons jonger generasie. Ek hoop dat al beïnvloed ek slegs een kindjie se lewe op ʾn positiewe manier, dit ʾn rippel effek sal afgee wat baie ander sal aanraak. Gedurende hierdie proses het ek so baie van myself en hierdie land kom leer en ek is so trots om ʾn Kapenaar te wees Maak ʾn kleurvolle verskil, my smartieboks vriende

Sondag 05 Oktober 2014

“Braai vir erfenis”


Amerikaners vier Danksegging (Thanksgiving), Suid- Afrikaners vier Erfenisdag (24 September), meer bekend as “Nasionale Braai Dag” en jy hoef nie  ̉n kapenaar twee keer te vra om makietie te hou nie, vir partytjie hou is ons nou maar eenmal bok.


Nou as jy   ̉n kapenaar is (of lank genoeg hier woon dat jy een gedoop kan word) sal jy verstaan dat ons nie  ̉n spesifieke dag mekeer om te braai nie, ons doen dit sommer enige tyd, maar om af te kry van jou werk om te braai; nou dit noem ons kaaps... ha! ha! ha! ha!

Hierdie jaar het my familie die aand voor die tyd al begin voorberei vir die dag. Ma was in die kombuis besig om te besluit watter slaaie sy gaan maak, pa het die rooster skoon gemaak, ons meisies het besluit watter klere ons gaan aantrek en boetie het hom heel dag skaars gehou en enige werk vermy natuurlik.

vis braai

vleis braai
Die volgende dag het Ma gou-gou stop gesit aan ons lyfwegsteek van werk.Almal jonk en oud het bymekaar gekom as familie om ons erfenis te vier terwyl die kole rooi skyn en sappige tjoppies lekker daaroor sis.

Ouma kon nie genoeg praat oor die goeie ou- dae toe sy nog jonk was, en hoe anders die lewe nou is nie. Pa en oom Samuel het heeltyd sokker gepraat terwyl die vrouens hard besig was in die kombuis. Die gelag het al hoe harder gerword toe Ma begin dans en Ouma ook inspring. Later het ons bure kom kuier en deel geneem aan die gesprek wat toe ernstig om politiek draai, terwyl ons jonklomp kaart speel.

En terwyl ek so gestaan het saam my familie en vriende, lag en spot oor alledaagse kattekwaad het ek besef dat dit dae soos hierdie was wat ons erfenis vir die toekoms bou.




Tot volgende keer my smartieboks vriende.

Mzoli's, 'n gewilde braai/ kuier plek
Kapenaars is lief vir braai







Maandag 29 September 2014

Kaapstad- ons Eden op aarde?

Bo-Kaap
Ek verbeel my graag dat God op hierdie stukkie land die hele wêreld saam gesit het. As jy lus het vir ʾn lekker bord malayers kos volg net die wierook stokkie reuk Bo-Kaap toe, daar welkom hulle jou graag.




Dit is in plekke soos Manenberg waar ou-Amerikaanse flieke ʾn realiteit word. Lus vir ʾn “vuurwarm” Sondag diens waar jy kring-dans en die pastoor jou op jou naam groet? Na kerk sal jy die ouderling of selfs die pastoor op ʾn fiets sien ry oppad om die siek mense te besoek.
Manenberg
Wees wel versigtig want die dief loop rond en anders as in die bybselse vergelyking, loop hy met lood en daglik skrik hom nie af nie.

Swaarkry ken hierdie mense en sal die kinders gou-gou winkel toe stuur vir ʾn R1 pakkie suiker om jou ʾn lekker soet koppie tee te maak.
Een van vele huis-winkels

In Langstraat kan jy dit eershands beleef as jy skrikkerig is vir “huisbesoek”J. Hier rinkink al Kaapstad se mense enige tyd van die dag rond. Verskeie lande lok jou na hul restuarant deure en jy kan na ʾn verskillende land reis deur slegs deur ʾn deur te loop.
Dubliner- Ierse Pub


Mama Afrika


Afrika mementos
Verken ons eden, tot volgende keer...


Uitkyk vanaf Tafelberg


Kinders baljaar in die water na 'n warme inkopietog by die V&A Waterfront





Maandag 22 September 2014

Bekendstelling

ʾn Hartlike welkom aan al julle trotse liefhebbers van Kaapstad en diegene want slegs nuuskierig is oor ons Moederstad, ons neem julle sommer ook graag aan.


Tafelberg
My naam is Amanda Claassen en ek is ‘n trotse Kapenaar (met al vier voor tande nog behoue), gebore en getoë met ‘n liefde vir sy mense, kulture, kos, kleure, geure, rasse en als kaaps.
 

Bo- Kaap se veelkleurige huisies
 
Daar is geen ander plek op aarde soos Kaapstad. Op hierdie klein stukkie land aan die punt van Afrika, laat dit my sommer aan smarties in sy smartieboks dink. Daar is so baie te ervaar en deel van te wees dat ek hierdie geleentheid met albei  hande, voete, tien vingers en tone aangryp om my liefde vir Kaapstad en sy mense met julle te deel. En nie die Kaapstad wat jy in die nuus of op brosure en plakkate in reisagent kantore sien nie, maar die ware hartklop en pols van hierdie stad.
 
Ek raak sommer opgewonde as ek dink aan die lekker gesprekies wat ons nog gaan het, maar eers genoeg vir nou.

Tot volgende keer my trotse Kaapse smarties, eet maar lekker aan als kaaps.

Smartieboks groete, tot volgende keer...

'n Kleurvolle nasie